Net Mooi Enigiets

Augustus 12, 2007

Uitdunning van Diere – Natuurbewaring…?

Filed under: Random — by nadinesmit @ 12:16 nm

Natuurbewaring is ‘n baie belangrike kwessie reg oor die wêreld. Mense spandeer baie geld aan die bewaring van diere, plante, natuurlike hulpbronne en ons aarde, maar ook daaraan om mense daarvan bewus te maak. Bewaring is ‘n ernstige saak en moet met groot voorsorg benader word.

In die verlede het die mens nie besef watter skade hul aanrig nie. Die jag van diere as voedsel en die doodmaak van diere wat as ‘n bedreiging gesien is, het hand uitgeruk en tot die gevolgtrekking gelei dat menigte diere vandag uitgesterf of bedreig is. Wildstelery en stropery deur gewetenlose jagters het net so ‘n ernstige effek tot gevolg gehad.

Vandag bestaan daar Wette teen en vir verskeie handelinge wat plante en diere raak. Bedreigde plant- en dierspesies word deur die wetgewing beskerm. Geen inheemse wilde diere, insluitende voëls, mag sonder ‘n permit in gevangenisskap of as troeteldiere aangehou word nie. Jy het ‘n jaglisensie nodig om wilde diere te jag en ‘n visvanglisensie om vis te vang. Stropers wat lewendige organismes doodmaak of steel, word gevonnis. Die straf vir die stroop van renosters vir hul horings of olifante vir hul tande kan tot soveel as R100 000 wees of vyf jaar tronkstraf.

Ekosisteme is in wese sikliese, gebalanseerde en selfonderhoudende stelsels. Indien ‘n bepaalde kommoditeit verwyder word, verkeer die stelsel nie meer in ewewig nie, maar stuur dit op biologiese gevaar af. Dit maak nie saak watter deel van die ekosisteem vernietig word nie, of dit ‘n skakel in die voedselketting is of ‘n stof wat deel uitmaak van ‘n natuurlike siklus, die uitwerking van dié verlies kan ewe ernstig wees. Ons moet ons diverse verskeidenheid plante- en dierelewe beskerm. Die enigste manier om ‘n stabiele en volhoubare omgewing te verkry is deur ‘n effektiewe program vir die bestuur en bewaring van die omgewing te implementeer. Die doelwit word deur die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit, Wet 10 van 2004 (WNOB) onder skraag.

Die doelstellings van dié wet is:
• om voorsiening te maak vir die bestuur en bewaring van Suid-Afrika se biodiversiteit binne die raamwerk van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 1998 (Wet 107 van 1998)
• die beskerming van spesies en ekosisteme wat nasionale beskerming regverdig
• die volhoubare benutting van inheemse biologiese hulpbronne
• die regverdige en billike verdeling onder belanghebbers van voordele wat vanweë bio-prospektering met inheemse biologiese bronne gerealiseer word
• om voorsiening te maak vir koöperatiewe bestuur, beheer en bewaring van biodiversiteit
• om voorsiening te maak vir ‘n Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit Instituut wat bystand moet verleen om die doelstellings van die wet te verwesenlik.

Soms groei ‘n bevolking met ‘n hoë reproduktiewe potensiaal so dramaties gedurende die eksponensiële groei-fase dat dit die dravermoë van die ekosisteem oorskry. Die omgewing kan die bevolking nie langer onderhou nie en omgewingsweerstand tree in. Die resultaat hiervan is dat die toename in die bevolking vinnig tot ‘n einde kom, en dat die kenmerkende “ineenstorting” plaasvind. Die verskynsel staan bekend as die “oplewing-ineenstorting”-sindroom (boom-and-bust). Die bevolking toon weer ‘n oplewing, maar volg weer dieselfde patroon, hierdie keer teen ‘n verlaagde dravermoë.

In die natuur is daar ‘n baie delikate balans tussen elke aspek daarvan. Die omgewing, habitat en al die organismes wat daarin voortbestaan werk ten nouste saam. In ‘n voedselketting is diere afhanklik van mekaar vir voedsel. Plante maak die basis van enige voedselketting uit, dus is hulle bekend as die produsente, daarna staan alle herbivore en diere wat van plante af lewe bekend as primêre verbruikers. So gaan die ketting aan met sekondêre en tersiêre verbruikers. Sou een bevolking in die voedselketting vermeerder sou die verbruikers wat van hulle afhanklik is, bevoordeel word tot op ‘n punt en ook vermeerder want hul voedselbron is groter. Die vermeerdering van daardie bevolking het ongelukkig nie ‘n positiewe effek op die bevolking wat as hul voedsel dien nie. Die bevolking is skielik groter en verbruik dus meer voedsel en hulpbronne. Soveel so dat die balans versteur word want daardie voedselgroep is nie groot genoeg om te kan voorsien aan die skielike vermeerdering nie.

Dit kan vergelyk word met vraag en aanbod. Die bevolking vermeerder en dus is die vraag groter, maar die voedselgroep is nie in staan om die aanbod te vermeerder nie, en kan dus uitgeput word. Sodra ‘n voedselgroep opgebruik of uitgeput word, word die ander verbruikers wat ook van die voedselgroep afhanklik was, benadeel want hul is ‘n bron van voedsel kwyt. Die bevolking wat aan die begin die probleem veroorsaak het, word ook benadeel want hulle is ook ‘n voedselbron kwyt. Dit kan weer in uiterste gevalle die uitsterwing of bedreiging van ‘n spesie tot gevolg hê. Op die ou einde het die vermeerdering van een bevolking ‘n effek gehad wat soos ‘n golf weer ‘n effek gehad het op al die organismes in dieselfde omgewing of habitat.

Om so ‘n situasie te voorkom moet omgewingsbestuur toegepas word. Die getalle van bevolking moet in toom gehou word om te verseker dat ‘n drastiese vermeerdering nie plaasvind nie. Daar is baie verskeie metodes om so ‘n probleem te voorkom. As daar ‘n vermeerdering plaasvind kan van die diere verwyder word en na ‘n omgewing verskuif word waar daar dalk ‘n tekort of baie lae syfer is van die betrokke dier. ‘n Ander opsie is uitdunning. Mense kan getalle in toom hou deur te verseker daar bestaan ‘n balans tussen die geboortesyfer en sterftesyfer van ‘n bevolking. As ‘n bevolking se geboortesyfer verhoog terwyl die sterftesyfer nie toeneem of in balans bly nie, kan uitdunning toegepas word. Uitdunning is, om dit baie kras te stel, die doodmaak van ‘n groep diere om getalle te verminder. Dit kan nie vergelyk word met stropery en word nie alleenlik as die enigste opsie gesien nie. Uitdunning word meeste van die tyd toegepas wanneer alle ander opsies oorweeg is en die bestes onsuksesvol toegepas is.

“Mnr. Marthinus van Schalkwyk, minister van omgewingsake en toerisme, behoort geprys te word omdat hy bewaringsbestuur as ‘n wetenskaplike aktiwiteit beskou. Só het prof. Rudi van Aarde, hoogleraar in dierkunde aan die universiteit van Pretoria, gesê in reaksie op die nuwe voorgestelde norme en standaarde vir olifantbestuur in Suid-Afrika, wat Van Schalkwyk gister bekendgestel het. Van Aarde, wat ook ‘n leerstoel in bewaringsekologie aan die universiteit beklee, het gesê olifante moet binne ‘n breë konteks bestuur word omdat hulle tussen drade is. Dit gaan nog veel verder, omdat watergate, deurgange en hul beweging in die toekoms ook bestuur gaan word. Dit is dus ‘n “holistiese bestuursplan”, waarin die uitdunning van olifante net een van die opsies is”, skryf Elise Tempelhoff in ‘n berig op 28 Februarie 2007.

Van Aarde het gesê: “Met hierdie plan sal die foute van die verlede ook reggestel word. Die dae van net olifante uitroei is verby, maar in die uiterste gevalle sal dit móét kom.” Elsie skryf verder: “Dr. Rob Little, waarnemende hoofbeampte van die bewaringsgroep WWF, het gesê dié organisasie besef dat plaaslike gebiede waar olifante voorkom oorbevolk is, en dat dit vir die meeste Suider-Afrikaanse state ‘n besondere uitdaging gaan wees om die getalle te bestuur. Van Schalkwyk het voorgestel uitdunning is met die bestuur van water, geslote gebiede, die skep van deurgange, hervestiging en die toediening van voorbehoedmiddels net een van die opsies in die nuwe bestuurplan.” Little het gesê: “Die WWF is nie voorstaanders van uitdunning as die enigste bestuursmoontlikheid nie. Ons meen olifante moet alleen as ‘n laaste uitweg uitgedun word nadat alle ander moontlikhede uitgeskakel is.”

Hierdie berig is slegs ‘n voorbeeld van waar uitdunning een van talle opsies is om getalle van diere te beheer. Olifante, nes enige ander bevolkingsgroep, se getalle kan hand uitruk, en daarom word uitdunning as ‘n opsie voorgestel. Die mens hanteer duidelik die besluit om uitdunning toe te pas as ‘n baie ernstige saak en baie navorsing word eers vooraf gedoen om te bepaal watter opsies die beste sal werk en watter nie suksesvolle resultate sal kan oplewer nie. Om die bevolkings van bepaalde spesies te bestuur is geen maklike taak nie. Aan die een kant wil ons oorbenutting verhoed, waar teveel individue verwyder word. Maar ons wil ook onderbenutting verhoed, waar heelwat minder individue verwyder word as wat die dravermoë regverdig. Dit is selfs hier baie moeilik om te besluit waar die ideale tussenvlak van ontginning tussen hierdie twee uiterste situasies lê.

Ongelukkig sukkel die wêreld vandag met oorbevolking. Die aarde kan net soveel lewe huisves en daarmee word nie geïnsinueer dat die mens diere se getalle moet verminder sodat daar meer ‘spasie’ vir ons bedrywighede is nie. Daar word slegs bedoel dat natuurlike hulpbronne so bestuur moet word ten einde alle partye te bevoordeel. Ons moet omsien na die Aarde. Die uitdunning van diere is natuurbewaring, maar dit is nie die enigste uitweg nie. Ander opsies moet ook in konsiderasie geneem word. Uitdunning moet ook verkieslik as ‘n laaste uitweg gekies en toegepas word, omdat dit nie altyd die beste of mees aangenaamste of effektiefste opsie is nie. Om diere dood te maak is ver van die ideaal af, maar partykeer is dit die enigste uitweg, mits dit op die beste moontlike manier gedoen word.

2 Kommentaar »

  1. Mmm… wel,mens kan sien hoekom jy die prys gewen het😉
    Goed geskryf,hou so aan!

    Kommentaar deur Kaerf — Augustus 12, 2007 @ 2:45 nm |Reply

  2. Baie dankie vir die web blog artiekel dit my baie gehelp met my taak!

    Kommentaar deur JanDirk — Januarie 24, 2012 @ 9:43 nm |Reply


RSS feed for comments on this post. TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: