Net Mooi Enigiets

November 24, 2010

Selfpersepsie…

Filed under: Suid Afrika — by nadinesmit @ 6:01 nm
Tags: ,

Hierdie is die tweede post in ‘n reeks oor “Whiteness”

Ek leer dikwels die meeste van myself wanneer ek in situasies moet reageer, in gesprekke my opinie moet lig of in redenasies my standpunt moet verdedig.

Ons weet almal seker min of meer hoe ons voel oor sekere sake, maar ons ware gevoel kom uit sodra ons dit teenoor iemand anders moet verduidelik. So ook was my gevoel of persepsie rondom Apartheid.

Iewers op hoërskool het gesprekke begin opduik tussen my en my vriende aangaande dinge wat in die land aangaan. Baie van ons se opinies was dié van ons ouers, wat natuurlik hul opinie in die huis lewer. Dinge soos kwota stelsels in rugby spanne, stories van mense wat hul werk verloor het a.g.v. regstellende aksie ens.

Al kon ek toegee dat wat in die Apartheidsera gebeur het, verkeerd is, het ek tog gevoel dat die metodes wat gebruik word om dit reg te stel, nie effektief is nie. Drie jaar gelede het ek ‘n blogpost geskryf op my Engelse blog oor “Our Future in South Africa“. Dit het my ‘n goeie idee gegee van hoe ek gevoel het op ‘n 17-jarige ouderdom.

Vir ‘n baie lang tyd het ek gevoel dis onregverdig dat daar nog so ‘n groot ophef van Apartheid gemaak word. My generasie was nie daar nie en ons het nie noodwendig dieselfde haat teenoor mekaar nie, so hoekom moet al hierdie rasse kwessies in ons kele afgedruk word. Ek het gevoel dat ons almal moet werk vir dit wat ons wil bereik en dat almal ‘n gelyke kans moet kry en ook wel het. 

Dit het vir my sin gemaak om net intieme verhoudings met ander witmense te hê want daar is nogtans die kwessie van kultuur en tradisies en voorkeure. Ek het sinvolle verhoudings met mense van ander rasse gehad en dikwels baie interessante gesprekke wat juis handel oor rasse verskille. Later kon ek die rasse ding oorkom om meer intieme verhoudings ook te hê maar my vriendekring het maar bestaan (en bestaan vandag nog) uit ander witmense.

‘n Jonger generasie is gebore wat teoreties vry is van al die dinge van die Apartheidsera, ‘n generasie waarin alle rasse saam kan bou aan die toekoms van Suid Afrika.

Ek sou nie sê dat ek vandag ‘n totale ander opinie het nie, ek bly steeds ‘n trotse Suid Afrikaner met baie optimistiese idees, al verskil is, ek het ‘n bietjie meer van die realiteit begin raak sien en baie meer daarvan begin verstaan.

My persepsie het dieselfde gebly in die sin dat ek verandering aanvaar en wel wil poog om te help bou aan ‘n nuwe Suid Afrika. Ek wil steeds my eie Witheid-identiteit hê, maar met ‘n begrip van wat dit werklik vir my beteken en ook ‘n begrip van ander identiteite.

Ek ontken nie meer die voordele wat ek uit Apartheid getrek het nie, maar sien dit raak al weet ek steeds nie heeltemal hoe om daarop te reageer nie, hoe om dit ‘reg’ te maak nie. Ek voel nie skuldig oor my Witheid nie, maar wil dit ook nie langer as vanselfsprekend aanvaar nie.

Ek wil graag my plek as ‘n Wit Afrikaanse Meisie vind in die nuwe Suid Afrika, sonder dat dié plek a.g.v. my identiteit aan my behoort.

:-)

November 15, 2010

‘n Deur oopgemaak…

Filed under: Suid Afrika — by nadinesmit @ 9:34 vm
Tags: ,

Die laaste paar weke is ek en ‘n groep van my vriende besig met die baie ingewikkelde gesprek rondom “wit wees” of “witheid” (whiteness) en al die dinge wat moontlik daarmee gepaard gaan. Ons lees en kyk media en deel idees en opinies op ‘n weeklikse basis en leer op die ou einde baie by mekaar, veral in my geval.

Agtergrond:

Ek het grootgeword soos meeste ander wit, afrikaanse jongmense. Gebore in ‘n wit ouerhuis, in ‘n wit gemeenskap, tussen wit vriende met wit idees en ‘n wit perspektief oor die lewe en oor Suid-Afrika. Klink vreemd om dit so te stel, né?

My daaglikse lewe was in my wit wêreld en die swartmense wat ek gesien het, het gelewe in hul wêreld, en die twee het bitter min, indien ooit bymekaar gekom. Op skool is die twee na aan mekaar geplaas, teen mekaar, maar nie langs mekaar nie – dit impliseer tog gelykheid.

Ek het dikwels gehoor hoe goed Apartheid gewerk het en hoe daardie tyd gemis word, hoe Suid-Afrika ‘n beter plek was onder ‘n wit regering. Goed, in my tiener jare het ek begin dink dat ek nie met Apartheid saam stem nie en dat swart mense ook mense is wat deur die Here geskape is. Ek het nie noodwendig my opinie oral gelig nie, maar ek het gekies om nie deel te neem aan iets wat ek gesien het as direkte rassisme nie, maar dit was tog “ons” en “hulle”.

Nou, op universiteit bly ek in ‘n koshuis wat nagenoeg 60% wit en 40% swart is en is al op die punt waar ek gemaklik voel om die verskille tussen ons aan te spreek in gewone gesprekke waar almal gemaklik voel daarmee. Ek voel dat verskille iets is om te waardeur en te verstaan, eerder as om geïgnoreer te word (sogenaamde kleurblindheid).

So bietjie meer as twee maande gelede is ‘n gesprek oopgemaak wat eers begin het as een oor godsdienste buiten Christenskap. Dié het verander in een oor “whiteness” en ander sake wat ons beleef in Suid Afrika, wat gevolglik uitgekom het op Apartheid en die nagevolge en voordele wat vandag nog beleef word in ons land.

Iets wat my werklik geruk het, was om uit te vind dat slegs 11% van S.A. se populasie, wit is. Dit is ‘n duidelike realiteit wat nog nooit by my ingesink het nie. Ek beweeg in ‘n omgewing waar ek deel van ‘n wit meerderheid is, oral waar ek kom is witmense die meeste, of kom voor om die meeste te wees omdat dit al is wat ek raak sien. Ek swot op ‘n kampus waar wit mense by verre die minderheid is. Als feite wat ek nie regtig besef het nie, het ek met ‘n skok agtergekom.

Ek lewe in hierdie borrel wat rondom my ontstaan het op ‘n baie jong ouderdom. Een wat ek wil vergroot tot sy nate bars sodat ek van hom kan ontslae raak.

Ek wil graag en gaan meer oor my belewenisse blog in die volgende paar weke in ‘n reeks posts oor “Whiteness”.

:-)

The Toni Theme. Create a free website or blog at WordPress.com.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.